Gekookte Vrugtekoek

Hierdie klam koek sal goed hou as jy dit in tinfoelie toedraai of in n lugdigte houer bewaar. Dis ideaal om te sny en in ‘n kospakkie of piekniekmandjie te pak.

BESTANDDELE
  • 1 blik (397g) kondensmelk
  • 150 g (165 ml) margarien
  • 225 g (375 ml) rosyne
  • 225 g (375 ml) sultanas
  • 225 g (375 ml) korente
  • 100 g (160 ml) glanskersies, gekap
  • 225 g (400 ml) koekmeelblom
  • 10 ml gemengde speserye
  • 5 ml gemaalde kaneel
  • 2,5 ml koeksoda
  • 2 eiers

Stel oond op 150°C. Smeer en voer ‘n ronde 17,5cm koekpan met gesmeerde bakpapier uit. Giet kondensmelk in ‘n swaarboomkastrol uit en voeg margarien,vrugte en glanskersies by. Plaas oor lae hitte tot melk en margarien gesmelt is roer goed en prut 5 minute saggies. Haal van stoof af,laat so 10 minute eenkant om af te koel en roer kort-kort om proses te bespoedig.

METODE

Sif koekmeelblom saam met speserye en koeksoda in ‘n groot bak en maak ‘n holte in middel. Plaas eiers en afgekoelde melkmengsel daarin en roer vinnig deur tot goed gemeng.

Skep in pan,maak bokant gelyk en bak 1¾ tot 2 uur of tot koek goed gerys en goudbruin is en die bokant styf voel. ‘n Warm toetspen wat in die middel ingesteek is moet ook skoon uitkom.

Laat sowat 10 minute in pan afkoel. Keer op ‘n afkoelrak uit en laat heeltemal koud word.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni

Droëvrugteslaai

Hierdie slaai smaak veral lekker by gebraaide skaap- of beesvleis

Lewer 6 tot 8 porsies

BESTANDDELE
  • 500 g gemengde droëvrugte
  • flou rooibostee
  • 6 piesangs
  • 1 blik kondensmelk
  • 125 ml asyn
  • 10 ml mosterdpoeier
  • 50 ml sonneblomolie
  • 2 ml sout
  • 1 eiergeel

Stowe die droëvrugte in die tee tot sag en dreineer. Skil en sny die piesangs in skyfies. Klits die res van die bestanddele by tot gemeng.

Pak die gestoofde vrugte en piesangskyfies in lae in ‘n slaaibak en skep van die sous oor elke laag. Eindig met ‘n laag sous en snipper ‘n bietjie vrugte of geroosterde klapper bo-oor vir garnering.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni

Haselneut Koekies

Die bros bolaag sak tydens die bakproses effens in die sponskoek in en gee ‘n heerlike geur daaraan.

Lewer 18 koekies

BOLAAG
  • 50 g (55 ml) botter
  • 175 g (220 ml) geelsuiker
  • 10 ml gemaalde kaneel
  • 45 ml koekmeelblom
  • 50 g (125 ml) geroosterde haselneute gekap
KOEK
  • 100 g (110 ml) sagte margarien
  • 100 g (120 ml)strooisuiker
  • 2 eiers
  • 175 g (310 ml) bruismeel
METODE

Stel oond op 180°C. Smeer en voer die basis van ‘n pan 17,5 cmx27,5 cm met gesmeerde bakpapier uit. Berei eers die bolaag: smelt die botter in ‘n klein kastrol,haal van stoof af en voeg res van bolaag bestanddele by. Laat afkoel en meng intussen die koek.

Plaas al die koekbestanddele in ‘n groot bak en klop 2 tot 3 minute tot die mengsel deeglik vermeng is. Smeer deeg oor die boom van die pan.

Skep bolaag oor en bak sowat 30 minute tot koek goed gerys is en weggekrimp het van die kante van die pan.

Laat afkoel in die pan en merk 18 blokkies. Lig uit en bêre in ‘n lugdigte houer.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni

Dadelbros Brood

Saam met ‘n appel kan hierdie koekies deel vorm van ‘n kospakkie

Voorbereiding sowat 10 minute

Baktyd sowat 30  tot 40 minute

BESTANDDELE
  • 225g (400 ml) koekmeelblom
  • 5 ml bakpoeier
  • 175 g (190 ml) sagte margarien
  • 100 g (125 ml) ligte bruinsuiker
  • 100 g (165 ml) ontpitte dadels,gekap

Stel oond op 180°C en smeer ‘n vlak pan van 27,5cm x 17,5cm liggies. Plaas koekmeelblom en bakpoeier in ‘n bak en vryf margarien in. Roer suiker en dadels by en knie tot goed vermeng. Druk in pan en maak seker dat mengsel egalig versprei is. Bak sowat 30 minute tot ferm en bruin om rande.

Sny in 16 vingers en laat afkoel in pan. As jy wil kan jy ‘n bietjie strooisuiker bo-oor sprinkel.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni

Krakerige Dadelvierkante

Hierdie koekies verdwyn nogal taamlik gou uit die koekblik. As jy nie 250 g dadels byderhand het nie,gebruik dieselfde hoeveelheid korente of rosyne.

Lewer 18 vierkante

BESTANDDELE
  • 175 g (310 ml) bruismeel
  • 175 g (375 ml) semolina
  • 175 g (190 ml) sagte margarien
  • 75 g (95 ml) geelsuiker
VULSEL
  • 250 g (415 ml) dadels fyn gekap
  • 75 g (95 ml) karamelbruinsuiker
  • sap van 1 suurlemoen
  • 5 ml gemengde speserye

Stel oond op 190°C. Smeer ‘n rolkoekpan van 17,5 cm x 27,5cm liggies.

Weeg die bruismeel en semolina in  ‘n mengbak en vryf margarien in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Voeg suiker by. Skep helfte van die mengsel op die boom van die pan en druk stewig vas sodat die hele boom egalig bedek is.

VULSEL: Meng al die bestanddele saam. Smeer oor deegbasis in pan. Skep res van deegmengsel bo-oor, maak gelyk en druk liggies vas met agterkant van lepel. Bak sowat 30 minute tot goudbruin. Sny in 18 vierkante en laat in pan afkoel voordat jy dit met ‘n slaplemmes uitlig.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni

Meringuevingers met Amandels

Doop die punte in gesmelte sjokolade

Lewer 20

BESTANDDELE
  • 2 eierwitte
  • 250 ml strooisuiker
  • 125 ml fyngekapte amandels
  • donker sjokolade (opsioneel)
METODE

Klits eierwitte tot taamlik styf. Klits die suiker bietjie vir bietjie by en klits tot mengsel styf en blink is. Vou amandels in. Plaas mengsel in ‘n versierbuis met ‘n gewone punt en spuit 8 cm repe op gesmeerde bakplate wat met mielieblom bestrooi is. Bak 1½ uur by 140°C tot ligbeige.  Skakel die oond af en laat in oond koud word voor die deur oopgemaak word. Indien sjokolade gebruik word, smelt dit saam met 5-10 ml water, doop die punt van elke meringuevinger daarin en draai om dit te bedek. Plaas op ‘n draadrak om te stol.

BRON: Koekies en Brood – Lynne Bedford Hall

Speserystafies met Droëvrugtevulsel

BASIS
  • 4 x 250 ml koekmeelblom
  • 15 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 10 ml fyn kaneel
  • 5 ml fyn gemengde speserye
  • 400 ml versiersuiker
  • 250 g sagte botter
  • 2 eiers geklits
VULSEL
  • 1 x 454g – fles droёvrugtevulsel
  • 1 groot Granny Smith-appel,geskil en grof gerasper
  • 25 ml brandewyn
  • ekstra versiersuiker

Sif meel, bakpoeier, sout, speserye en versiersuiker. Vryf botter in en voeg dan eiers by (‘n elektriese klitser kan gebruik word). Knie tot ‘n bal,draai toe en vries sowat 45 minute tot hard. Haal driekwart van deeg uit vrieskas en rasper grof in ‘n groot,effens gesmeerde vierkantige of reghoekige koekpan. Druk met die hande vas om ‘n gladde 5 mm-dik basis te maak.

VIR DIE VULSEL: Meng droёvrugtevulsel,appel en brandewyn en smeer egalig oor deeg. Haal orige deeg uit vrieskas en rasper grof oor bokant. Sprei egalig oop met ‘n vurk. Bak 50 minute by 160°C, of tot bros. Sny in stafies en laat in pan afkoel. Sif ‘n bietjie versiersuiker bo-oor,haal uit en plaas op ‘n draadrak tot heeltemal koud.

BRON: Koekies en brood – Lynne Bedford Hall