‘n Maklike, anderse en spesiale Kerskoek. Die droëvrugte is baie klam omdat dit drie dae in sjerrie geweek word. Die koek is nie baie hoog nie moet dus nie verwag dat die deeg tot bo in die pan sal rys nie.

BESTANDDELE
  • 550 g (900 ml) koekvrugtemengsel (gemengde droëvrugte)
  • 100 g (170 ml) pitlose rosyne
  • 100 g (170 ml) korente
  • 100 g (160 ml) glanskersies, in kwarte gesny
  • 150 ml medium of soet sjerrie
  • 175 g (190 ml) sagte margarien
  • 175 g (220 ml) sagte bruinsuiker
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 3 eiers
  • 15 ml swartstroop
  • 50 g (125 ml) amandels, gekap
  • 100 g (180 ml) koekmeelblom
  • 50 g (90 ml) bruismeel
  • 5 ml gemengde speserye
METODE

Plaas vrugte en kersies in ‘n houer,giet sjerrie oor en bedek. Laat minstens 3 dae week en roer elke dag om.

Plaas margarien, suiker, suurlemoen en lemoenskil, eiers, swartstroop en amandels in  ‘n groot bak. Sif bruis- en koekmeelblom en speserye saam en voeg by mengsel in bak.  Roer tot goed gemeng. Roer geweekte vrugte en sjerrie by.

Stel oond op 150°C. Smeer en voer ‘n ronde 20 cm koekpan met gesmeerde bakpapier uit. Skep mengsel in en maak bokant gelyk.

Bak 2 uur en verminder dan temperatuur tot 140°C vir nog 1¼ uur.

Steek ‘n warm toetspen in middel van koek in. As dit skoon uitkom is die koek gaar. Indien nie,bak nog 15 minute. As die koek gedurende dié tyd bo-op te donker word, bedek liggies met tinfoelie. Laat in pan afkoel.

BRON: Koek en koekies in ‘n kits – Mary Benni