Afrika tot die redding? Wilde Als

DIE kuur vir Covid-19 groei dalk in jou agterplaas.

Maar ons sal eers vir seker weet of wildeals iets is wat teen die virus gebruik kan word wanneer die departement van gesondheid se navorsers klaar is met wetenskaplike toetse.

Duisende mense wêreldwyd het reeds weens die virus omgekom, maar geen sterftes is in Madagaskar aangemeld nie.

Dié eiland het 158 gevalle van die corona-virus gehad. Altesaam 101 mense het gesond geword.

Die land se president, Andry Rajoelina, sê die kuur lê in ’n doepa waarvan die hoofbestanddeel die wildeals-plantjie, Artemisia afra, is.

Ons nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Woensdag in die sosiale media gesê hulle het ’n oproep uit Madagaskar gekry.

Mkhize het gesê: “Ons is gevra om te help met die navorsing oor dié kruiedrankie.

“Ons wetenskaplikes kan help met die taak. Ons is net betrokke by die ontleding van die kruie.”

Ander Afrika-lande, soos Tanzanië en Guinee-Bissau het reeds aangedui dat hulle dié Malgassiese doepa gaan probeer.

Maar die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verwerp claims dat dié kruiedoepa die oplossing in die stryd teen die corona-virus is.

KUUR? Kliniese toetse word gedoen op ’n doepa gemaak uit die wildeals-plantjie, Artemisia afra, wat Madagaskar sê die corona-virus ’n run vir sy money sal gee.

Kruiedokters van die African National Healers Association (Anha) loof Madagaskar egter daarvoor dat hy sy eie kruie vertrou, berig EWN.

Vlieg

Die kruiedokers sê wildeals, ook bekend as lengana in Sesotho en umhlonyane in Zulu, is ’n ou raat wat werk vir asemhalingsinfeksies en dis selfs veilig vir babas.

Nadat Madagaskar sy oënskynlike suksesverhaal met die wêreld gedeel het, vlieg die plantjie uit Rastas se stalletjies soos dit verkoop.

’n Rasta van Somerset-Wes sê: “Ons verkoop die herb deur die jaar. Dit help vir griep, verkoue en sinussiektes, maar nou het verkope die hoogte ingeskiet.”

Bron: Die Son Vrydag, Mei 08, 2020 11:00 https://www.son.co.za/Nuus/CoronaVirus/afrika-tot-die-redding-20200507?fbclid=IwAR1TLs5tvUwWdwbj2KYF10l_6JqNfV6ZQET5tmwu-ukws1ppxJzyWZ7h0Q8